Louis le Grange het gesterf soos hy geleef het tussen vriende

ILLUSTRASIE:foto: Mnr. Louis le Grange

Louise Laubscher

POTCHEFSTROOM. Mnr. Louis le Grange, Speaker van die Parlement, het
gesterf soos hy gelewe het tussen vriende en in sy gemeenskap.
Skaars twaalf uur voordat mnr. Le Grange (63) Vrydagaand by 'n
geselligheid op Potchefstroom ineengestort het, het hy te midde van
'n druk werkdag die begrafnis van 'n jarelange vriend op die dorp
bygewoon.
''My pa sou só wou gegaan het. Skielik en tussen sy mense op
Potchefstroom. Juis dié omstandighede is vir ons as kinders en vir
my ma 'n troos,'' het mnr. Janus le Grange (34), seun van mnr. Le
Grange, gister by sy ouerhuis gesê.
Sy broer, Louis jr. (30), het Saterdagmiddag ná twaalfuur eers
van sy pa se dood gehoor. Louis en sy vrou, Sonja, was met vakansie
naby Sodwana aan die Natalse noordkus. Hulle is deur middel van 'n
flitsberig oor die radio gevra om die familie op Potchefstroom op te
bel.
Mnr. Le Grange word Dinsdagoggend halftwaalf begrawe op die
dorp wat hy 25 jaar lank in die Parlement verteenwoordig het. Die
roudiens is in die ouditorium op die kampus van die Potchefstroomse
Universiteit.
Dit sal gelei word deur di. Josef Brooks en W. Lamprecht van
die NG kerk Potchefstroom-Oos, waar mnr. Le Grange 'n lidmaat was.
Hoewel dit nie 'n staatsbegrafnis is nie, sal dit onder meer
deur die Staatspresident, mnr. F.W. de Klerk, bygewoon word. Pres.
De Klerk sal 'n huldeblyk namens die Regering lewer. Mnr. Johan
Oosthuizen, burgemeester van Potchefstroom, sal namens die
gemeenskap praat. Die koor van die universiteit sal optree.
Mnr. Le Grange is Saterdagoggend omstreeks twee-uur in die
Medicity-Kliniek op die dorp dood nadat verskeie dokters vir meer as
twee uur lank om sy lewe geveg het. Hy het nooit sy bewussyn herwin
nie.
Mnr. Le Grange het Vrydagaand net na elfuur op 'n geselligheid
op 'n dansbaan in die stadsaal op die dorp inmekaargesak. Hy het
vermoedelik 'n hartaanval gehad. Mnr. Oosthuizen ook buurman en
jarelange vriend van mnr. Le Grange het gister gesê mnr. Le Grange
se skielike dood was 'n skok vir hom en die hele gemeenskap.
Mnr. Oosthuizen het Vrydagaand op die Wynfees in die stadsaal
langs mnr. Le Grange gesit.
''Hy het nie gekla dat hy sleg voel nie. Voor die fees was hy
nog by die prysuitdeling van Boys' High School. Vroeër die dag was
hy op kantoor, by die begrafnis van 'n vriend, mnr. Derek Lane, en
by 'n veiling.''
Mnr. Oosthuizen het gesê die stadsraad op die dorp sal Dinsdag,
voor mnr. Le Grange se begrafnis, 'n buitengewone raadsvergadering
hou. 'n Mosie van roubeklag sal gestel word.
Mnr. Awie van Wyk, leier van die Puk-koor, het gister gesê mnr.
Le Grange se vrou, Jessie, het Saterdagoggend vroeg reeds die koor
gevra om by haar man se begrafnis op te tree.
Mnr. Le Grange word ook oorleef deur twee dogters, mevv. Jessie
Hattingh (38) en Lizelle Berry (36), en nege kleinkinders.


KATEGORIE: parlementslede sterfgevalle -->